Projek2026-06-211 min lees· Ds Cassie Aucamp

Emeriti (afgetrede predikante en -weduwees) wat voor 1994 reeds in die bediening was word deur die Emeritaats Versorgings Trust (EVT) versorg. Vanaf 1994 is predikante lid van die GKSA pensioenfonds. Die huidige stand van fondse in die trust is redelik stabiel en word goed bestuur, met die grootste inkomste uit ramings wat gemeentes oorbetaal.

Die aantal emeriti neem egter toe tot in 2032, en die projeksie is dat die trust oor die volgende 8 jaar 'n addisionele R14.5m gaan benodig om voort te gaan met versorging.

Geliefde broeder en suster,

Ons doen met vrymoedigheid 'n beroep op u met die oog op 'n dringende saak in die versorging van ons emerituspredikante en -weduwees. Die Emeritaats-Versorgings Kombinasie is in 1994 deur al die kerke in die Nasionale Sinode gestig om in kombinasie hande te vat en mekaar te help om ons emeriti en hul afhanklikes en weduwees eervol te versorg.

In 2022 het die kerke in kombinasie saam die Sorg Met Eer-projek geloods ten einde 'n dreigende 25% vermindering in die versorgingsbedrag te voorkom. Die afgelope drie jaar kon 'n geringe verhoging in die versorgingsbedrae aangebring word, waarvoor die Here opreg dankbaar erken word.

Aangesien Sorg Met Eer 'n vrywillige projek na vermoë is, word 'n dringende beroep op kerke en individuele lidmate gedoen om nog voor einde Junie 'n spesiale bydrae te maak. Bydraes kan oorbetaal word in: Geref. Emeritaatsorg, ABSA rek. 670288412, verwysing SME en u naam, en die bewys gestuur word na [e-pos verborge — meld aan om te sien].

Ds. Cassie Aucamp (SME organiseerder)

Sommige kontakbesonderhede is verberg vir besoekers wat nie aangemeld is nie. Meld aan om alles te sien.