Wat is 'n Geloofsfamilie?

'n Geloofsfamilie is 'n groep gelowiges wat op 'n gereelde basis bymekaar kom om saam geestelik te groei deur Bybelstudie te doen en saam te bid (en saam te sing).

Hulle fokus ook spesifiek op verhoudingsbediening, d.w.s. hulle onderneem om mekaar beter te leer ken, lief te hê, by te staan en te ondersteun (met woord, daad en gebed).

Hierdie groep is gerig op die gemeente en op die uitbreiding van God se koninkryk en daarom identifiseer hulle diensprojekte (binne en buite die gemeente) volgens hulle gawes.

Hoekom Geloofsfamilies?

Die kerkraad is oortuig dat dit die beste manier is waarop ons as gemeente tans ons roeping kan uitleef en moedig daarom alle lidmate aan om by 'n geloofsfamilie aan te sluit, of om self een te begin.

Wat kan ek verwag en wat word van my verwag?

Onvoorwaardelike liefde

  • Die gedagte van 'n geloofsfamilie is om vir mekaar lief te wees
  • Sorg dat niks in die pad staan van julle liefde vir mekaar nie
  • Reik in liefde uit na ander wat nog nie in die groep is nie en poog om hulle in te trek en deel te maak van die geloofsfamilie

Algehele beskikbaarheid

  • Stel jouself, d.w.s. jou tyd, gawes, energie, insig en wysheid, beskikbaar vir die groep
  • Maak 'n verbintenis tot die groep en maak dit prioriteit in jou lewe
  • Hier is baie geleentheid vir bediening

'n Biddende geloofsfamilie

  • Bid vir mekaar, want dit is wat die Here van ons verwag
  • Bid sonder ophou dat die Here die lede en die byeenkomste sal seën

Groter openheid

  • Hier is die plek om jou gevoelens, jou stryd, jou swaarkry en jou vreugdes te deel
  • Vertrou die groep met wat op jou hart lê en skep 'n vertrouensband, sodat almal met vrymoedigheid kan deel
  • Wees altyd eerlik

Sensitiwiteit vir ander

  • Wees ingestel op die ander se behoeftes
  • Kyk met Christus se oë, luister met sy ore en gee om met sy hart

Waaragtige vertroulikheid

  • Moenie uitpraat oor vertroulike dinge wat binne die groep gesê word nie
  • Skep altyd 'n atmosfeer waar vertroue heers en lede veilig voel

Volkome beheer deur die Heilige Gees

  • Laat jou ten volle deur die Heilige Gees lei oor waar God jou wil plaas en gebruik in die wêreld
  • Lewe onder beheer van die Heilige Gees en stel jouself en jou gawes tot diens van God

Betrokkenheid by dienswerk

  • Besin en besluit saam oor diensprojekte (binne en buite die gemeente) wat julle as groep kan aanpak en stel jou tyd, gawes en energie beskikbaar om dit uit te voer

Getroue bywoning

  • Maak 'n verbintenis en woon elke geloofsfamilie-byeenkoms gereeld en stiptelik by
  • Maak verskoning as jy in uitsonderlike gevalle 'n byeenkoms nie kan bywoon nie

Dankoffer

  • Gesels gereeld met mekaar oor dankoffers, herinner mekaar waarvoor dit is en hoekom ons dit gee

Uitbreiding

  • Dink na oor hoe jul geloofsfamilie kan help om die beginsel van geloofsfamilies verder in die gemeente te laat posvat
  • Dit kan gebeur deur die geloofsfamilie te verdeel en dan nuwe lidmate in te neem by die twee dele
  • Dit kan ook gebeur deur 'n lid van die geloofsfamilie wat help om 'n nuwe geloofsfamilie tot stand te bring en dan of aan twee geloofsfamilies behoort, of terugkeer na sy ou geloofsfamilie nadat die nuwe een gevestig is

Wil jy by 'n geloofsfamilie inskakel?

Kontak Alberts Breed by 082 992 0002

Kontak Ons