Aankondiging2026-01-112 min lees

8 Januarie 2026

Aan die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika

Geagte Kerkraad, broers en susters

Die kerke worstel sedert 1988 met die vraagstuk rondom die diens van susters in ons kerke, meer spesifiek rondom die diens van ouderling en Bedienaar van die Woord. Sinode 2009 het die volgende besluit geneem:

"Die vergadering besluit volgens die goedgekeurde aanbeveling, pt. 4.2, dat vroue nie in die besondere dienste van predikante en ouderlinge mag dien nie…"

Nieteenstaande hierdie besluit het sommige gemeentes voortgegaan om vroue in die diens van ouderling te bevestig. Die binding aan besluite van Sinodes (art. 31 KO) kom sodoende in gedrang. Die noodwendige gevolg hiervan was en is dat daar groot spanning in die kerkverband ontstaan het. Sinode 2023 het derhalwe aan studiedeputate die opdrag gegee om die kerke te lei oor wat gedoen behoort te word wanneer daar gemeentes is wat nie aan die voorgenoemde besluit hou nie.

Die Algemene Sinode van 2026 het die volgende besluit geneem:

  1. Die nie-onderhouding van Sinodebesluite insake VIDA kom neer op self-losmaking van die kerkverband.
  2. Kerke word opgeroep om hulle te bekeer en in gehoorsaamheid aan Christus sinodebesluite te handhaaf. Die Sinode roep kerke, wat hulle nie aan die Sinodebesluite insake VIDA hou nie, op om die eenheid in die kerkverband te soek en te beleef.
  3. Aan die betrokke kerke word 'n jaar tyd gegee om hulle besluit om vroue in die ouderlingamp te bevestig terug te trek en met die daad reg te stel deur vroue wat wel in die amp bevestig is, losmaking te gee. Klassisse het die verantwoordelikheid om hierdie betrokke kerke pastoraal by te staan.
  4. Indien 'n kerk na daardie tyd voortgaan om nie by die Sinodebesluite te hou nie, word met droefheid deur die klassis aan die gemeentes in die GKSA gekonstateer dat daardie kerk ongehoorsaam aan Christus is en haarself van die GKSA as 'n kerklike gemeenskap losgemaak het.
  5. Indien 'n Klassis in gebreke bly om dit te doen, sal die betrokke Streeksinode die feit konstateer. Indien die betrokke Streeksinode in gebreke bly om dit te doen, sal 'n volgende Algemene Sinode dit doen.
  6. Indien klassisse of Streeksinodes advies benodig rakende die hantering van praktiese gevolge (byvoorbeeld eiendomme, versorging en finansies), staan dit hulle vry om Deputate wat aangewys kan word, te kontak.

Bogenoemde besluit en oproep kom uit 'n diep besef van ons gesamentlike roeping vir die Here. Christus regeer sy kerk deur sy Woord en Gees en Hy roep ons tot gehoorsaamheid, ook wanneer dit vir ons moeilik is of teen die tydsgees indruis.

Daarom doen ons 'n ernstige, broederlike en liefdevolle beroep op alle kerkrade en lidmate om hulself voor die Here te ondersoek sodat ons in ootmoed na die Skrif luister en die besluite van die kerke eerbiedig.

Namens die sinode, u broers in Christus Dr GJ Meijer (Voorsitter) Dr CA Jansen (Skriba)