Projek2026-08-232 min lees· Charitas span

Liewe GKBO, ons deel graag positiewe terugvoer oor ons huidige projekte:

  • Die dagsorgprogram in Goliath Estate bedien tans 12 voorskoolse kinders en stel twee gemeenskapslede in diens. Ons het ook ondersteuning ontvang om elke kind soggens met 'n gebalanseerde maaltyd te voorsien tot en met die einde van die jaar!
  • Die naskoolse tutorprogram bars uit sy nate – die huiswerkhulp word tans twee maal 'n week aangebied maar daar is aanvraag vir meer. Hoe wonderlik om 'n veilige ruimte te hê waarheen kinders wil kom om te leer!
  • Ons fasiliteer tans 14 kinders se vervoer na en van skool af – dit is vier meer as waarvoor ons aanvanklik begroot het. Wat 'n genade dat ons op so klein manier kan bydra om die kinders in die skool te help hou!
  • Die maandelikse uitreike (GF30) en kwartaal uitreike (diakonie) is besig om ons verhoudings met die gemeenskap te versterk en hoop te saai. Mag God hierdie gewillige hande seën om Sy oes verder te groei.

Om hierdie nodige inisiatiewe op 'n volhoubare wyse uit te brei, wil ons graag jul hulp vra.

Ons benodig tans:

  1. Nog mense in die Charitas span – spesifiek:

    • Iemand om met die jaarlikse finansiële oudit te help
    • 'n Persoon of groep wat 'n eenmalige fondsinsamelingprojek kan bedryf
    • Nog mense wat wil saam dink en bid oor hoe om ons mandaat so goed moontlik uit te leef
  2. Mense wat kan help met tutoring – verkieslik op 'n gereelde basis, 1 x 'n week vir 60-90 minute op 'n slag

  3. Bydraes of borge om ons vervoerprojek (dit beloop sowat R10,000 per maand) aan die gang te hou

Kontak ons gerus as die Here dit op jou hart lê om betrokke te raak!

In Sy diens: Die Charitas span