Die woord genade is van kleintyd al deel van 'n Christen se woordeskat. Dit word in die algemeen verstaan as 'n onverdiende guns wat iemand wat in 'n beter posisie as jy is, aan jou bewys. Die genade wat deur die Seun van God aan die mens bewys is, is die hoogste vorm daarvan. Dit is iets wat die totale omvang van my menswees en lewe vul.
As ons as gelowiges oor die genade van God uitgevra word, is ons geneig om te fokus op die verlossing van die ewige verdoemenis. En dit is inderdaad die kern van die genade wat ons ontvang het.
Ons moet egter ook bewus wees van die genade wat ons elke dag ontvang. Dit het weer tevoorskyn gekom tydens 'n onlangse besoek en godsdiensbediening by twee van die tehuise by die Stikland psigiatriese inrigting.
Die meeste permanente inwoners by Stikland is duidelik psigies en dikwels ook intellektueel, gestrem – op verskillende wyses. Daar is ook persone wat heeltemal normal voorkom en goeie intelligensie vertoon, maar dit is die minderheid.
Die tema tydens hierdie godsdiensbediening was die liefdesgebod en gebed as kernaspekte van ons lewe. Dit klink dalk bietjie kompleks vir so 'n groep mense, maar dit was duidelik nie die geval nie.
Die gesprek is afgeskop met die vraag, hoe 'n gelowige se dag moet verloop, hoe begin en eindig dit, wat moet voorop in sy gedagtes en gedrag staan? Die spontane antwoord uit meer as een hoek was dat 'n mens jou dag met gebed moet begin en eindig, en dat mens altyd die Here bo alles moet liefhê en jou naaste soos jouself. Almal was dit daarmee eens.
In die verdere gesprek het 'n hele aantal van die inwoners ook hulle dank betuig dat hulle "gesond" is, dat hulle kan rondloop en met mekaar kan gesels, dat hulle nie honger het, nie natreën of koud kry nie. Dat dit deur die genade van God is en dat hulle daaroor bid.
Die gedagte wat mens diep tref as jy met mense omgaan wat lewenslank so beproef word, is hulle eie genadebesef. En jou eie insig dan dat dit waarlik egte genade is en nie bloot 'n gewaande genadebesef nie.
In 'n gesprek met die huismoeder net daarna, getuig sy toe ook van die lewenslesse wat sy soms by die inwoners kry.
Laat ons God elke dag dank vir sy genade, en die liefdesgebod uitleef soos Hy dit vereis.
