Opmerkings oor die aard en wese van God kom gereeld in die media voor. Dit kom onder andere van oortuigde gelowiges, skeptici wat alles bevraagteken, en mense wat die God van die Bybel probeer omskep in 'n blote natuurkrag.
Die wese van God is nie omvattend definieerbaar nie. Ons kan alleen maar sekere aspekte daarvan erken.
In die geledere van oortuigde Christene vind ons ook soms verskillende beskrywings van God wat nie heeltemal Skrifgefundeerd is nie. Een daarvan is die Liewe Jesus-uitbeelding – 'n vriendelike "supermens" wat altyd goed doen. Hierdie tipe uitbeeldings kan komponente van die waarheid bevat, maar dit is nie wat die Bybel ons leer nie.
Gelowiges beskryf God ook soms as 'n superwese – beter, sterker, slimmer en magtiger as ons mense. Maar die antwoord is nee; God is nie 'n superwese wat in wêreldse terme volkome beskryf kan word nie. In Eksodus 3:14 sê God vir Moses: "Ek is wie Ek is". Jesus gebruik ook in Johannes sewe "Ek is..."-uitsprake as metafore: die brood van die lewe, die lig van die wêreld, die deur, die goeie herder, die opstanding en die lewe, die weg en die waarheid en die lewe, en die wynstok.
Jesus maak hierdie uitsprake om sy verhouding met gelowiges uit te druk, nie om 'n omvattende beskrywing van sy wese te gee nie. Die Geloofsbelydenis van Atanasius en Artikel 1 van die Nederlandse Geloofsbelydenis sê vir ons wat ons moet weet, maar dit bly onvolledig. Dit verwys na die liefdevolle en genadige, maar onbegryplike en almagtige Wese wat nie aan ons wêreldse dimensies gebonde is nie. God het alles geskep en onderhou dit tot op die laaste dag, wanneer Hy ons vir ewig na Hom toe sal neem en die Skepping sal herstel.
