In teenstelling met Goliat, die reus van 1 Sam 17, wat deur Dawid met 'n klippie in 'n slingervel verslaan is, is 'n ander Goliat, 'n klein plakkerswoonbuurt (ongeveer 500 inwoners) geleë op 'n moerasgebied (die begin van die Mosselbankrivier) noord van Kraaifontein, springlewendig - ondanks die geestelike en diakonale betrokkenheid van lidmate van GKBO. "Springlewendig" beteken hier: as speelpark van Satan.
Ongeveer 12 jaar gelede is 'n naweekuitreiking daarheen gedoen deur die kandidate van Nuwehoop Vernuwingsentrum naby Vredenburg en die ouens (almal verslaafdes of misdadigers/bendelede) se eenparige uitspraak was: "Dis die ergste gops wat ons van weet!". Tans het minder as 10% vaste werk, meisies kry omtrent almal babas (pa's is onbekend of onbetrokke), dwelmmisbruik is algemeen en vir baie jong mans is bendes 'n normale "beroep". 'n Jaar gelede is ongeveer die helfte van die plek deur 'n brand vernietig en is die mense met behulp van Afrimat en Stad Kaapstad van blyplekke voorsien asook twee skeepshouers vir byeenkomste. Vir meer as 15 jaar bestaan daar 'n klein kleuterskool wat deur GKBO bedryf word.
Ria Breed, diaken in ons kerk en 'n opgeleide maatskaplike werker, is vir meer as 20 jaar gelede gelei om by die mense betrokke te raak. Deur baie jare het sy getrou twee maal per week daar "huisbesoek" gedoen, die mense leer ken en hulle prakties gehelp om ID's te bekom, kinders by geskikte skole ingeskryf gekry, maandeliks van kruideniersware te voorsien, klere uit die klerebank soos nodig te voorsien, 'n leeuestryd gestry om die kleuterskool geregistreer en in bedryf te kry en te hou – in kort "Tannie Ria" is die bekendste en mees vertroude blondine op die plek.
Geestelik/kerklik het Ineke de Weerd en Oom Chris Coetsee agt jaar gelede begin met 'n weeklikse beradingsessie, maar dit het uiteindelik doodgeloop weens gebrek aan belangstelling. Twee jongmans is wel vandaar na die Vernuwingsentrum by Vredenburg gestuur, maar een het teruggeval en 'n ander het homself opgehang. 'n Derde een, Nigel Johannes, 'n bendeleier, is deur die Dept Korrektiewe Dienste soontoe verwys en het daar in sy eie woorde: "God ontmoet". Hy is daar weergebore en vorm vandag 'n hoeksteen in ons kerk se uitreiking daar en is bekend as 'n kind van die Here wat nie "nonsens vat nie" – ook onder sy eertydse kollegas wat hulle bes gedoen het om hom terug te kry by die "Ses-en twintigs".
Lidmate van GKBO is op talle maniere betrokke by die kleuterskool en die gemeenskap. Op Donderdae word daar 'n Bybelstudie gehou en Sondae om 11:00 'n kerkdiens. Stadigaan word daar 'n kern van gelowiges gevorm en toegerus om self die reus te pak.
Persone wat deur die Here geroep word om ook in die stryd betrokke te raak, moet asb vir Ria skakel ([nommer verborge — meld aan om te sien]).
