Die afsterwe van 'n geliefde, vriend, familie, kennis word deur ons almal verskillend beleef. Tog is daar ook emosies en praktiese ooreenkomste waarin ons almal deel. Ons wil graag 'n hand uitreik na almal wat deur die rouproses gaan.
Die kerkraad het besluit om weer hierin aan ons lidmate ondersteuning te bied deur middel van die Griefshare-program. Dit bestaan uit ten minste 13 sessies wat op 'n weeklikse/twee weeklikse basis aangebied word. Daar word 'n video vertoon wat uit kort getuienisse bestaan van persone wat self deur die rouproses gewerk het, asook opgeleide beraders, sielkundiges en predikante wat die proses verduidelik. Jy ontvang ook 'n werkboek wat jy op jou eie tyd kan deurwerk. 'n Fasiliteerder help om die groep te bedien en te ondersteun.
Onderwerpe wat behandel sal word sluit o.a. die volgende in: wat is die rouproses, hoekom kan ek nie aangaan nie, hoe gaan ek aan, woede, haat, selfverwyt, bekommernis, vergifnis, besluite, mense wat van jou verwag om "oor dit te kom", my verhouding met ander, my verhouding met God, ens.
Teneinde die nodige beplanning te doen sal ons graag 'n aanduiding wil kry hoeveel lidmate en ander belangstellendes hierdie kursus wil doen. Ons beoog om op 5 Februarie 2026 te begin. Op enkele uitsonderings na vind die byeenkomste op Donderdagaande plaas van 18:00 – 20:00 in ons kerkgebou. Na elke byeenkoms drink ons saam koffie/tee, geniet verversings en kuier saam.
Laat weet asseblief so spoedig moontlik vir Reinder indien jy belangstel en deel van die ondersteuningsgroep wil wees. Reinder se kontakbesonderhede is: Selfoon [nommer verborge — meld aan om te sien] en epos [e-pos verborge — meld aan om te sien]
