Sending2026-06-283 min lees· Reynold en Vicki (sendingveld)

Liewe Gemeente van Bellville-Oos

Die Here lewe en satan bewe! Die Here is getrou en Hy beweeg en dinge is buite beheer (vanuit ons perspektief). Ons wil graag hierdie buite beheer wees met jou deel, omdat so baie mense saam bid, bydra en ondersteun in die sending.

Harvesters Ministries Reynold het al beweeg hierdie jaar. Ons het opleiding gedoen in Malawi, Zambië, DRK, Angola, Gaboen en die Republiek van die Kongo. Op die oomblik fokus Harvesters daarop om plaaslike leiers toe te rus om verantwoordelikheid te neem vir die opleiding. Danksy wonderlike eksponensiële groei in die lande waar ons dien, is hierdie stap nodig. Dis deel van die 2 Tim 2:2 beginsel. Ons het reeds spanne opgerig en begin oplei in Malawi, DRK en Zambië. Ons kon ook in nuwe areas kerkplantingsopleiding begin.

In Zambië het ons drie nuwe opleidingstrome begin: Mpika, Kasama, Mansa. In Gaboen het ons twee nuwe punte: Port Gentil en Libreville. In die Kongo drie: Point Noir, Dolisi en Imfondu. En in Angola twee: Menongue en Luanda. Dit is bo en behalwe die bestaande 21 opleidingspunte in die lande waarvoor Reynold verantwoordelikheid neem by Harvesters!

'n Hoogtepunt die jaar was om vir die eerste keer verhoudings te kon bou in die Kongo en Gaboen. Dit was die eerste keer wat ons daarheen was en ons is so dankbaar vir nuwe geleenthede. Dis pragtige lande met pragtige mense.

Crossworks Crossworks is 'n NGO/PBO wat ons begin het om sosiale opheffing te doen in van die plekke waar ons opleiding gee en waar ook al elders die Here ons lei. Waarmee is ons tans besig? Ons ondersteun 'n gemeenskapsentrum in Kraaifontein. Ons ondersteun 'n verlossingskliniek in Angola. Ons sit boorgate in, vir gemeenskappe om vars water in hulle dorpies te kan hê (ons het befondsing ontvang om DV 5 boorgate in Angola in te sit en het in Chongwe, Zambië een gesink wat Ruben Mwale se bediening en die omliggende gemeenskap kan ondersteun). Daar is ook groot nood in die Wesbank van Zambië aan ossewaens. Dis die enigste vervoermiddel wat sinvol werk in die vloedvlaktes. Ons beoog om binnekort 5 ossewaens te voorsien. Ons kon ook, nader aan die huis, en vir die eerste keer in ons eie hartstaal, jeugdissipelskap opleiding aanbied by twee skole in onderskeidelik Bonnievale en die Kouebokkeveld. Hierdie opleiding geskied in samewerking met Reach4Life en Biblica.

By die Gemeente Ons is betrokke by ons gemeente se nuwe kerkplant. Ons plant 'n multikulturele Engelse kerk in Bellville-Oos, saam met baie ywerige mense in ons gemeente. Ons neem ook verantwoordelikheid vir die evangelisasie diensgroep en bedien die Woord soos tyd en geleentheid dit toelaat.

Hou asseblief aan om vir ons te bid, by ons in te check en te ondersteun – as gesin is ons baie keer nie bymekaar nie, en dis nie altyd maklik nie. Dit beteken dat ons julle liefde soveel te meer nodig het en waardeer! Dié plek van geen beheer is 'n genadeplek – ons ervaar dit elke dag! Nes ons weer aan 'n aardse "iets" wil vasgryp leer ons 'n nuwe les by die enigste Een waarna ons eintlik moet gryp omdat Hy óns in die eerste plek gegryp het.

"Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en begin sink en uitgeroep: 'Here, red my!' Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: 'Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?'" – Matteus 14:30-31

Uit ons harte uit dankie vir elke gebed, drukkie, boodskap en inloer. Ons waardeer elkeen sommer baie opreg.

Reynold, Vicki, Christiaan, Lukas en RB.