In 'n wêreld waar menslike kennis en tegnologie teen 'n ongekende tempo ontwikkel, word die grens tussen wysheid en intelligensie dikwels vaag. Die ontwikkeling van kunsmatige intelligensie (AI) – masjiene wat mense se denkprosesse kan naboots en selfs oortref – dwing ons om weer stil te staan by wat die Bybel onder wysheid verstaan.
Die fondasie van Bybelse wysheid: Die vrees van die Here
"Die vrees van die HERE is die beginsel van kennis; sotte verag wysheid en tug." (Psalm 111:10)
Hierdie soort "vrees" beteken nie paniek of angs nie, maar eerbied, respek, en onderwerping aan God se heilige karakter en wil. Bybelse wysheid begin dus nie in die mens se kop nie, maar in sy hart – sy verhouding met God. 'n Superrekenaar kan biljoene berekeninge per sekonde doen, maar weet niks van reg en verkeerd nie.
Wysheid bó die son: Die Bybelse perspektief
Teenoor die verganklike aard van menslike kennis, stel die Bybel 'n ander soort wysheid – gebore uit God se openbaring, nie menslike navorsing nie. "... want die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstand" (Spreuke 2:6).
Kunsmatige Intelligensie (AI) het nie wysheid nie
Intelligensie gaan oor die vermoë om probleme op te los en patrone te herken. Maar wysheid vra morele oordeel, begrip van die hart, en 'n visie op die lewe gewortel in God se karakter. Die grootste gevaar is dat mense masjiene meer vertrou as God.
Die kerk moet die ware wysheid behou
Dit is die kerk se unieke roeping om in hierdie wêreld van data en algoritmes die stem van ware wysheid te wees. Wanneer samelewings intelligensie verafgod, moet ons wysheid verkondig.
Die grootste wysheid: Christus!
"Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing." (1 Korintiërs 1:30)
Die ware toets van wysheid is nie hoe slim jy is nie, of hoeveel jy weet nie – maar of jy Christus ken en Hom volg.
Geskryf deur ds Johann de Waal. Gepubliseer in Kruispad Julie 2025 weergawe.
