Aankondiging2026-02-221 min lees· Kerkraad

Besluit van die kerkraad op 18 Februarie 2026

  1. Die kerkraad het kennis geneem van die skrywe en die besluit van Sinode 2026 en dit deeglik bespreek. GKBO gaan nou die kerkordelike weg volg om 'n beswaarskrif by die eerskomende Klassis Boland in te dien teen: a) die bewoording "ongehoorsaam aan Christus", en b) die skerp toepassing van KO Art. 31 dat die betrokke gemeentes 12 maande gegee word om hulle besluite om te draai, anders plaas hulle hulleself buite die kerkverband.

  2. Die kerkraad gee erkenning daaraan dat daar in die gemeente en in die kerkraad verskeie sienings en interpretasies oor die saak van die vrou in die amp is. Ons sal voortgaan om toeligtings- en gespreksgeleenthede daaroor te reël om sodoende eenheid en verdraagsaamheid te bevorder. Die kerkraad neem met waardering kennis van al die skrywes van lidmate, en sal dit in die opstel van die beswaarskrif in ag neem.

  3. Die kerkraad gee verder erkenning daaraan dat verskeie vroue in ons gemeente die sinodebesluit as negatief en miskennend van hulle kosbare bydraes binne GKBO ervaar.

  4. Ons wil die gemeente gerusstel dat daar niks binne GKBO gaan verander op grond van die sinodebesluit nie. Die kerkraad sal ook besin oor hoe om naburige gemeentes by te staan.

  5. Die kerkraad wil almal, en veral vroue wat seergemaak voel deur die sinodebesluit, spesifiek aanmoedig om hulle gawes steeds tot die verdere opbou en uitbreiding van die Koninkryk uit te leef.