
Wanneer ons die kruis van Christus oordink, staan ons voor een van die diepste openbarings van wie God is. Die kruis wys nie eerstens iets oor ons nie, maar oor God. Dit is die plek waar God Homself openbaar – in Sy heiligheid, Sy geregtigheid én Sy liefde.
In Romeine 3:21–26 bring die apostel Paulus hierdie openbaring op 'n aangrypende manier saam: God is tegelyk volkome regverdig én volkome genadig.
Paulus begin deur die donker agtergrond te skets: "Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God" (Romeine 3:23). God se geregtigheid is nie 'n klein saak nie – Hy kan nie sonde ignoreer nie. Sy heiligheid eis voldoening.
Maar "nou" het die geregtigheid van God geopenbaar geword (Romeine 3:21). God openbaar sy geregtigheid nie deur bloot te straf nie, maar deur te red. Hy stel die Here Jesus Christus voor as 'n versoening deur sy bloed (Romeine 3:25).
God is regverdig én genadig
God straf die sonde, maar Hy doen dit in sy eie Seun. So bly God regverdig, want die sonde word werklik gestraf. Maar Hy is ook genadig, want die straf tref nie ons nie, maar ons Plaasvervanger.
God het 'n liefdevolle geregtigheid
In God is daar geen teenstrydigheid tussen geregtigheid en liefde nie. Aan die kruis ontmoet hierdie twee mekaar volkome. Dit beskerm ons teen 'n koue wettisisme aan die een kant, en 'n oppervlakkige genade aan die ander kant.
In die lig van Paasfees leer ons om die kruis reg te lees: nie 'n God wat sy oë toeknyp vir sonde nie, maar 'n God wat self die prys betaal. Ons saligheid is vas en seker, want as God self die prys betaal het, wie kan dit ooit weer ongeldig verklaar?
