Aankondiging2026-03-012 min lees· Kuratorium van die GKSA

Die Algemene Sinode van die GKSA het 5-10 Januarie 2026 in Potchefstroom vergader, en 'n aantal besluite geneem oor teologiese opleiding in die kerkverband. In die lig van navrae wat ontvang is, sowel as om enige onduidelikheid uit te skakel, rig die Kuratorium van die GKSA hierdie verklaring uit.

Beginsels van die Sinodebesluite oor predikantsopleiding:

  • Kerklike opleiding vanuit die kerke, deur die kerke, vir die kerke. Die kurrikulum word deur die kerke bepaal en die kerke hou daaroor toesig.
  • Die amp lei die amp op. Dosente word volgens die Kerkorde geroep of aangestel om hierdie opleiding te gee, onder toesig van die Kuratorium.

Agtergrond en duidelikheid:

  1. Die Gereformeerde Teologiese Akademie (GTA) is die aangewese opleidingsinstansie van die GKSA wat onder toesig van die Kuratore staan.
  2. Die GTA se opleiding is tans nie in Suid-Afrika geakkrediteer nie, maar gee toegang tot 'n MA-graad wat by 'n Gereformeerde Teologiese seminarium in Amerika geakkrediteer is.
  3. Die GTA is besig om sy kursusse ook binne Suid-Afrika te akkrediteer, en die Kuratorium moet toesien dat dit gebeur.
  4. Die Algemene Sinode het besluit dat studente wat in die tydperk tot die GTA se akkreditasie inplek is, en by Mukhanyo Theological College (MTC) wil studeer, die geleentheid gegee moet word.
  5. Gevolglik kan studente wat die predikantsopleiding wil volg in 2026 kies of hulle as Kandidaatstudent die opleiding by die GTA of by MTC volg.
  6. Daar is voorwaardes waaraan voldoen moet word sodat MTC teologiese opleiding aan voornemende predikante van die GKSA kan gee, insluitend goedkeuring van kurrikulum, dosente en 'n ooreenkoms tussen die Administratiewe Buro en MTC.

Slotverklaring: Dit is ons erns om seker te maak dat kandidaatstudente van die GKSA opleiding ondergaan wat aan die behoeftes en vereistes van die GKSA voldoen. Alle kommunikasie oor predikantsopleiding in die GKSA word deur die Kuratorium gekommunikeer. Aan hierdie besluit van die Algemene Sinode 2026 is alle instansies gebind (MTC, GTA, TSP, of enige ander).

Dr. Deon Lartz, Voorsitter Ds. Gerben Meijer, Korrespondent