Mukhanyo Teologiese Kollege (MTC) se Potchefstroom-sentrum het op 10 Februarie 2026 met BTh1-klasse begin. Hierdie ontwikkeling volg op die onlangse besluit van die Algemene Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) om Mukhanyo aan te wys as 'n geakkrediteerde studie-opsie vir die opleiding van sy toekomstige predikante.
Terwyl die hoërsertifikaatprogramme van MTC al vir meer as 'n dekade in Potchefstroom aangebied word, funksioneer die Potchefstroom-sentrum van vanjaar af as 'n toegewyde sentrum vir gereformeerde teologiese graad-opleiding. Hierin werk MTC met die Teologiese Skool Potchefstroom (TSP) saam. Die sentrum staan onder leiding van Professor Henk Stoker, wat tot einde 2025 as Rektor van die TSP gedien het.
Die BTh-graad waarvoor eerstejaarstudente vanjaar by MTC se Potchefstroom-sentrum ingeskryf het, is 'n nasionaal geakkrediteerde teologiese B-graad in Teologie, en word in Afrikaans en Engels aangebied. Onderrig vind deur kerklik-beroepe professore en goedgekeurde dosente plaas.
Dr. Brian DeVries, prinsipaal van MTC, het gesê: "Ons is dankbaar vir die vertroue wat die GKSA in Mukhanyo stel. Die bekendstelling van die Potchefstroom-sentrum verteenwoordig 'n belangrike stap in die versterking van gereformeerde teologiese opleiding in Suid-Afrika. Ons doel is om toekomstige predikante toe te rus met 'n stewige grondslag in die Skrif, gesonde teologiese insig en die karakter wat nodig is vir getroue en effektiewe diens in Christus se kerk."
Voornemende teologiese studente van die GKSA wat vir die tweede semester of volgende jaar wil inskryf of verdere inligting verlang, kan die registrateur van die TSP, Lieze Coetzer, kontak by [e-pos verborge — meld aan om te sien].
Ander studente kan direk deur die MTC-portaal inskryf https://mtc.ac.za/apply-now/. Studente kan ook kontak maak deur 'n Whatsapp na Prof. Stoker te stuur by [nommer verborge — meld aan om te sien].
