Gemeente2026-08-233 min lees· Kuratorium van die GKSA

Die Kuratorium van die GKSA bestaan uit afgevaardigdes van die Streeksinodes in Suid-Afrika en die Nasionale Sinode in Namibië en hou toesig oor die dosente, studente en kurrikulum van die Teologiese Skool Potchefstroom (TSP). Die Kuratorium het op 21–22 Julie 2026 vergader en rapporteer soos volg:

1. Besluite van Algemene Sinode 2026

  • Die TSP bly die amptelike opleidingsentrum waar alle GKSA-kandidaatstudente ingeskryf word, terwyl die Gereformeerde Teologiese Akademie (GTA) die aangewese instelling vir die akademiese opleiding is.
  • As oorgangsreëling kan nuwe eerstejaar-kandidaatstudente in 2026 hulle studies óf by die GTA óf by Mukhanyo Theological College (MTC) volg terwyl die GTA sy plaaslike akkreditasieprosesse afhandel.
  • Studente wat reeds by die NWU ingeskryf is, kan hulle studies daar voltooi. Die beroepe professore begelei hulle DV tot einde 2029.
  • Die TSP het tans studente wat by drie verskillende opleidingsinstansies studeer.

2. Studentesake Daar is tans 45 studente aan die TSP, waarvan 11 in K6, die finale jaar wat spesifiek op voorbereiding vir die bediening gerig is.

Die Kuratorium het kandidaatsertifikate oorhandig aan Jaco Roets, Pieter Deysel, Tsediso Matheba en Mixo Manganye, wat hulle verder voorberei om by die Streeksinodes vir eksaminering kragtens KO art. 4 aan te meld. Andries Kruger, wat kragtens KO art. 9 aangemeld het, het aan die vereistes vir die Kandidaatsertifikaat voldoen en kan ook by die Streeksinode aanmeld om kragtens art. 4 beroepbaar gestel te word.

Die Kuratorium doen, in die lig van KO art. 19, 'n ernstige beroep op kerke om geroepe broeders aan te moedig om vir teologiese studie aan te meld: "Die oes is groot, maar die arbeiders min..." (Matt. 9:37–38).

3. Personeel Die aantal beroepe professore het oor die afgelope jare van 18 tot 7 afgeneem, terwyl die werksdruk toegeneem het. Die Kuratorium ondersoek daarom die moontlikheid om 'n professor in Teologie te beroep om die GTA en TSP te versterk. Die beroepe professore is tans ook verantwoordelik vir die kandidaatstudente by die NWU en MTC.

Die GTA word tans deur tydelike dosente, hoofsaaklik GKSA-predikante, bedien. Die Kuratorium waardeer die werk van die professore kragtens KO art. 18, asook dié van die registrateur en ondersteunende personeel.

4. Opleiding aan die GTA Die GTA se belangrikste strategiese doelwit is binnelandse akkreditasie. Voorbereidings vir akkreditasie deur die Raad op Hoër Onderwys en registrasie by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding is aan die gang.

Die huidige ooreenkoms met Puritan Reformed Theological Seminary (PRTS) eindig op 10 Desember 2026. Die GTA bou egter voort aan sy eie kapasiteit en ontwikkel die Ad Fontes-aanlynplatform verder.

5. Finansies Die TSP se finansiële posisie is oor die algemeen gesond en goed bestuur, maar die Kuratorium is bekommerd oor die ekonomiese druk op lidmate en gemeentes, soos weerspieël in dalende ramingsinkomste en lidmaatgetalle.

Al hoe meer studente ervaar finansiële nood, terwyl die Studentehulpkas onder druk is en studente se lewenskoste styg. Gemeentes word versoek om die fonds te ondersteun. Die moontlikheid word ook ondersoek dat 'n gemeente of groep gemeentes 'n student kan "aanneem" en gedeeltelike verantwoordelikheid vir sy daaglikse versorging aanvaar.

6. Verhouding tussen TSP en NWU Die dekades lange ooreenkoms tussen die TSP en NWU eindig aan die einde van 2026. Hiermee kom 'n verhouding wat groot voordeel vir die kerke ingehou het tot 'n einde. Onderhandelinge om die belange van die twee instansies te ontbondel, is aan die gang.

7. Navrae Kerke kan navrae oor teologiese opleiding of die rapport aan die Voorsitter van die Kuratorium of die Registrateur van die TSP rig.

8. Voorbidding Die Kuratorium beklemtoon dat die opleiding van Woordbedienaars nie sonder die voorbidding van die kerke kan voortgaan nie. Gebed word gevra vir genoeg broeders met die gawes en roeping, die beroepe professore, die GTA, MTC en NWU, die Kuratorium se toesighoudende taak, en die Here se voorsiening van genoeg geestelike en stoflike gawes.