top of page
Die Geloofsbelydenis van Athanasius

Hierdie Belydenisskrif word genoem na Atanasius, die verdediger van die Skriftuurlike leer teen die dwalings van Arius in die 4de eeu, alhoewel dit betwyfel word of dit Atanasius self was wat dit opgestel het. Dit vertolk egter die Kerk se standpunt oor die leer van die Drie-eenheid (NGB, art. 9).

 

    1. Vir elkeen wat salig wil word, is dit in die eerste plek nodig dat hy die algemene geloof moet vashou.

    2. As iemand dit nie heeltemal en ongeskonde bewaar nie, sal hy sonder twyfel ewig verlore gaan.

    3. Die algemene geloof is: Ons moet die een God in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid eer,

    4. sonder om die persone te vermeng of die wese te deel.

    5. Want die persoon van die Vader is 'n ander, dié van die Seun is 'n ander, dié van die Heilige Gees is 'n ander.

    6. Tog het die Vader en die Seun en die Heilige Gees een Godheid, gelyke eer en gelyke ewige heerlikheid.

    7. Soos die Vader is, so is ook die Seun en ook die Heilige Gees.

    8. Die Vader is ongeskape, die Seun is ongeskape, die Heilige Gees is ongeskape;

    9. onmeetlik is die Vader, onmeetlik is die Seun, onmeetlik is die Heilige Gees;

    10. die Vader is ewig, die Seun is ewig, die Heilige Gees is ewig.

    11. Nogtans is daar nie drie ewiges nie maar een Ewige,

    12. net soos daar ook nie drie ongeskapenes of drie onmeetlikes is nie maar een Ongeskapene en een Onmeetlike.

    13. Eweneens is die Vader almagtig, die Seun almagtig, die Heilige Gees almagtig;

    14. en tog is daar nie drie almagtiges nie maar een Almagtige.

    15. So ook is die Vader God, die Seun God, die Heilige Gees God;

    16. en tog is daar nie drie gode nie maar een God.

    17. Net so is die Vader Here, die Seun Here, die Heilige Gees Here;

    18. en tog is daar nie drie heres nie maar een Here.

    19. Want soos ons deur die Christelike waarheid gedwing word om elke Persoon afsonderlik God en Here te noem,

    20. word ons ook deur die algemene geloof verbied om drie gode of heres te bely.

    21. Die Vader is deur niemand gemaak of geskep of gegenereer nie;

    22. die Seun is deur die Vader alleen nie gemaak of geskep nie maar gegenereer;

    23. die Heilige Gees is deur die Vader en die Seun nie gemaak of geskep of gegenereer nie maar gaan van Hulle uit.

    24. So is daar dan een Vader, nie drie vaders nie; een Seun, nie drie seuns nie; een Heilige Gees, nie drie heilige geeste nie.

    25. En in hierdie Drieheid is daar nie eerste of laaste nie, nie meeste of minste nie,

    26. maar al drie Persone het gelyke ewigheid en is heeltemal aan mekaar gelyk,

    27. sodat in alle opsigte, soos hierbo gesê is, die Eenheid in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid geëer moet word.

    28. Wie dus salig wil word, moet so oor die Drie-eenheid dink.

    29. Maar vir die ewige saligheid is dit nodig dat hy ook getrou aan die menswording van ons Here Jesus Christus moet glo.

    30. So is die regte geloof dan: Ons glo en bely dat ons Here Jesus Christus, die Seun van God, tegelyk God én mens is.

    31. Hy is God uit die Wese van die Vader, voor alle tye gegenereer, en mens uit die wese van sy moeder, in die tyd gebore;

    32. volkome God, volkome mens met 'n redelike siel en menslike vlees,

    33. na die Godheid aan die Vader gelyk, na die mensheid minder as die Vader.

    34. En alhoewel Hy God en mens is, is Hy nogtans nie twee nie maar een Christus.

    35. Hy is een, nie deur verandering van die Godheid in die vlees nie maar deur die aanneming van die mensheid in God.

    36. Hy is in alle opsigte een, nie deur vermenging van die wese nie maar deur die eenheid van die Persoon.

    37. Want soos die redelike siel en die vlees een mens is, so is God en mens een Christus,

    38. wat ter wille van ons saligheid gely het. Hy het die lyding van die hel ondergaan*. Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan,

    39. na die hemel opgevaar het en aan die regterhand van God, die almagtige Vader, sit.

    40. Daarvandaan sal Hy kom om die lewendes en die dooies te oordeel.

    41. By sy koms sal alle mens, met hulle liggame, opstaan

    42. en van hulle eie werke moet rekenskap gee.

    43. En die wat goed gedoen het, sal die ewige lewe ingaan, maar die wat sonde gedoen het, in die ewige vuur.

    44. Dit is die algemene geloof; en as iemand dit nie getrou en vas glo nie, sal hy nie salig kan word nie.

bottom of page