top of page
  • Writer's pictureGKBO

Ons eerste uitsending tydens die inperkingstydperk

- Matt Venter, Tegnologiekomitee


Ons is dankbaar dat ons Sondagoggend ons eerste erediensuitsending vanuit ds. Reynold Fourie se huis kon uitsaai. Vanoggend het ds. Reinder Kingma ook die eerste daaglikse oordenking op ons tweede videokanaal begin. Weens die inperking wat landswyd geld, mag niemand tans sy huis verlaat nie en kon ons dus nie voortgaan met ons normale erediensuitsending of selfs beperkte uitsending uit die kerkgebou nie. Ons moes dus ander planne maak.


Hoewel Sondag se uitsending net meer as 35 minute geduur het, het dit dae se werk geneem om hier te kom. Dit het ʼn hele span geneem om dit reg te kry. Dankie aan Tobie en Attie wat ure aan die voorbereiding spandeer het, Reynold wat die preek moes voorberei en lewer onder ongewone omstandighede, en nog 'n klomp ander mense wat ons nie almal hier kan noem nie.


Dankie ook aan u, die lidmate en kykers, vir u geduld en ondersteuning met terugvoer en aanmoediging. Die werk is in ʼn baie kort tyd gedoen terwyl nie een van ons kon staatmaak op vorige ervaring van al die aspekte wat voor ons gestaan het nie.


Het u probleme ondervind om na die uitsendings te kyk of luister? Ons is jammer daaroor, maar poog om die probleme uit te sorteer. Dit lyk of die klankuitsending sonder haakplekke verloop het.

Die GKBO Video kanaal het volgens YouTube Analytics 'n piek van 253 kykers bereik. Die laaste kyker was net betyds om die einde te sien, maar het in die proses geleer hoe om by die uitsendings uit te kom. Daar was ook 121 luisteraars op die Kerkdienstgemistklankkanaal gewees.

Indien u probleme ondervind met die videouitsending, probeer gerus om dit direk op YouTube te kyk. Die skakel is: https://www.youtube.com/GKBOvideo.


Dit kan ook help om die webleser se “cache” leeg te maak (daar is nie ʼn lekker Afrikaanse woord daarvoor nie en as ek van 'n stoorplek praat, gaan dit mense eerder verwar as help). Ons gaan nie die detail van die funksie bespreek nie, en die stappe om dit te doen, verskil van program tot program. 'n Ander opsie is om ʼn privaat- of incognitovenster in die webleser oop te maak en na die webwerf te kyk. Dit kan die cache probleem omseil.


Ons het hierdie week begin met 'n nuwe videokanaal met kort oordenkings op YouTube. Kykers kan die GKBO Oordenkings kanaal bereik via die Uitsendings bladsy op ons webwerf, of by https://www.youtube.com/channel/UCAsV-DgmY_4T1ka_PgHII5w. Die kort oor­denkings (4 - 5 minute) word deur ons predi­kante gelei.


Ons webwerf se adres is: https://www.gkbo.org, of u kan sommer die kortpad vat deur gkbo.org in die webleser te tik. Op die webwerf kan u by ons nuus, Die Boodskapper (ons weeklikse nuusbrief) en ander dokumente uitkom en ook by ons erediens­uit­sendings; lewendig sowel as uit die argief. Die huidige klankargief op YouTube gaan terug tot Desember 2013.

339 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page